Elegant slumming
Dis nooit `n goeie idee om eers `n boek te lees en dan die fliek te sien nie. 99% van die keer sal jy teleurgesteld en ietwat verneuk voel. Slumdog Millionaire het hierdie siniese stelling weer gisteraand vir my bevestig. En dis eintlik jammer, wat op sy eie is dit `n goedvervaardige fliek met `n interessante en onvoorspelbare storielyn.
Net jammer daar is soveel verskille van Vikas Swarup se Q & A dat jy by tye na die boek wil gryp en net sekermaak dat jy wel na die fliek kyk waarop die boek gebaseer is. Dus is dit seker beter om na die twee apart te kyk en nie eers te poog om hulle te vergelyk nie.
Ek het Q & A so twee weke gelede gelees - slim-geskryf met net die regte hoeveelheid kinkels en verrassings. Dis nie `n swaar, diep boek waardeur jy moet worstel nie – inteendeel – elke hoofstuk is in maklik-verteerbare groottes opgebreek en het `n doel – naamlik om te verduidelik hoe die hoofkarakter in sy benydenswaardige en onwaarskynlike posisie beland het. Alhoewel die temas deurlopend ernstig is, is dit nooit ontstellend of oordramaties nie. Die hoofkarakter het ten spyte van sy erge omstandighede `n ligheid en redelike “upbeat” ingesteldheid.
Slumdog millionaire aan die anderkant word in tipese Hollywood-styl verpak. Name en verhoudings word verander en aangepas om die storielyn beter te pas. Die hoofkarakter heet skielik Jamal ipv Mohamed. Latika bestaan in `n heel ander vorm in die boek, maar Boyle smelt dit saam in `n mooi pakkie sodat die romantiese storielyn meer sin (skynbaar) logies verloop. Ook Salim is in die fliek Jamal se broer waar hy in Q & A slegs `n goeie vriend was en nie deurlopend in die verhaal was nie. Nog een van die mees frustrerende (vir my in elk geval) aanpassings was die verandering van die gameshow se naam om dit meer kommersieel en bekend aan die kykers te maak.
Volpunte egter vir Boyle se verpakking – die klankbaan is briljant en visueel is die fliek uitstekend aanmekaargesit. Ek vermoed egter al die elemente en sy aanslag is gebruik om die maksimum impak te kry, genoeg melodrama in te werk en soveel moontlik simpatie te wek by die kykers.
Swarup slaag daarin om dit steeds te doen met al die visuele en audio hulpbronne in op `n “understated” manier en daarom sal ek steeds die geskrewe weergawe bo die fliek verkies.
As jy dus oorweeg om die boek te lees EN die fliek te kyk, maak seker jy doen dit `n paar maande uitmekaar om te verseker dat jy nie die detail van die ander onthou nie.