Pienk felines en cat fights
Die afgelope week was duidelik een van ligte vermaak in die vorm van flouerige fliek-fluff – ideaal vir net-na-werk-ontspanning.
Eerste op die lysie was Pink Panther 2. Miskien het ek `n selektiewe geheue, maar ek verbeel my dat die eerste een nie te sleg was nie. En dis met hierdie (dalk verkeerde) idee dat ek dit gewaag het om sy opvolger te gaan kyk.
Wees gewaarsku – Pink Panther se grappies is flou en erg simpel by tye. Steve Martin oortref homself natuurlik as die karikatuur Jacques Clousseau en sy fake Franse aksent word ongelukkig by die minuut meer irriterend. Die storielyn is darem nie heeltemal voorspelbaar nie en alles ten spyt is daar tog snaakse oomblikke. Die hoogtepunt van die fliek is waarskynlik die verskeie locations waar dit afspeel – if nothing else maak dit `n mens lus om `n oorsese trip Parys toe te begin beplan.
As jy lus is vir breinlose vermaak wat doodeenvoudig oor jou spoel sonder enige inspanning, gaan kyk gerus Pink Panther 2.
Asof bogenoemde nie genoeg spookasem-vermaak was nie, het ek kansgesien vir meer. (DUIDELIK was ek erg gestres laasweek) En wat kan meer gepas wees as `n fliek oor twee bruide?
Persoonlik kon ek nog nooit die hele ophef oor groot troues, meringue rokke en die hele idee dat jy R100 000 spandeer vir een dag verstaan nie. Na Bride Wars verstaan ek dit nog minder. Ons het al meermale vir Kate Hudson gesien in slapstick komedies met min van `n storielyn en voorspelbare eindes. Hierdie is nog so een. Mens verwag egter meer van Anne Hathaway (of dalk nie …) Beide vertolk hulle karakters uitstekend, dit moet `n mens wel erken, maar op die ou end is die hele fliek een groot belaglike, onrealistiese cat fight oor wie die beste troue gaan he.
Hoogtepunte? Snaaks genoeg kan ek nie aan eniges dink nie … miskien die Vera Wang trourok?