Frankenstein se monstertjie?

Julie 13, 2008 at 5:36 nm (media) ()

Die Burger het die afgelope week met groot fanfare aangekondig dat hulle binnekort `n facelift (of dalk `n papercut?) gaan kry.

Vrydag se Burger buiteblad was besaai met stippellyne en `n skalpel, terwyl gister se uitgawe toegedraai is met verbande… amper soos Frankenstein se monster. Vol punte vir die Burger vir visuele impak. Want ons weet tog teen die tyd dat mense oor die algemeen lui is en iets visueel eerder `n impak gaan maak as `n doodgewone, vervelige persverklaring. Bonuspunte vir hulle poging om die nuuskierigheid in hul lesers aan te wakker deur net die nodigste te wys en se.

Die vraag is net – moet die Burger nie eerder meer tyd spandeer aan die binnekant as die blote kosmetiese nie? Die koerant is reeds die afgelope jaar of twee besig om te verander in `n poniekoerant – subtiel en geleidelik, maar tog …  Bladsy drie is veronderstel om een van die belangrikste bladsye in `n koerant te wees. Die feit dat dit tans gebruik word vir die nuutste sterrenuus, model / aktrise, Afrikaanse sanger wat in die moeilikheid is of enige vorm van sensasie, is `n duidelike aanduiding hiervan. Nee, ek stel nie belang in wie Steve by watter kunstefees aangeval het  of wie watter deel van Amore se anatomie gekomplimenteer of selfs of Patricia regte flashpoints het nie. Daar is `n rede hoekom ek nie die Son, Rapport of HEAT-magazine koop nie.

Wat my laat wonder – is die Burger se extreme makeover nie dalk die begin van ons eie Frankenstein se monstertjie nie? As die lipo-prosedure uitgevoer, tande gebleik en oogoperasie afgehandel is, gaan ons nog die ou Burger (die een waarmee ek grootgeword het deur die jare) enigsins herken of gaan `n tweede Son soggens op ons drumpels beland? Al wat ek kan hoop is dat die Naweekjoernaal en By nog ongeskonde aan die ander kant van die hele operasie sal uitkom.

2 Kommentaar

  1. Ke het gesê,

    Is DIT wat aan die gang is. Ek was heel verward Saterdag (duidelik nie ‘n getroue Burger leser nie).

    Ek neem wel jou punt. Plus hulle redesign gaan moerse goed moet wees om daardie tipe publisiteit te regverdig. Ek vind dit in iedergeval dodgy as koerante prominente berigte oor hulself dra.

    Dalk is dit van môre af sommer in ponie-formaat ook ;-)

  2. s0nja het gesê,

    Ek probeer so ver moontlik die Burger vermy – koop net Vrydae en Saterdae. Soms is daar darem iets sinvol in die By. Ek ys om te dink wat na die oefening tevoorskyn gaan kom. Maar nou ja, maybe we’ll be pleasantly surprised!

Lewer Kommentaar